'N PLEK VAN RUS EN VREDE
Leringe deur Krause Venter
“Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”
- Sefanja 3:17
Soek jy na rus, vrede en antwoorde? Voel jy verlore, oorweldig of onseker?
Die Dam is hier om jou na die rus te lei, om jou te help om Jesus te ontmoet en om duidelikheid te bring deur Bybel-gebaseerde leringe.
Gestig deur Krause Venter, is Die Dam ‘n ruimte vir diegene wat vrede, hoop, rigting en ‘n dieper begrip van God soek. Deur sorgvuldig gestruktureerde leerreekse deel Krause lewensveranderende boodskappe wat jou nader aan Jesus bring.
Elke reeks bestaan uit ‘n versameling video's wat in volgorde gekyk moet word, sodat jy stap vir stap in jou geestelike reis kan groei. Of jy nou uitdagings in die gesig staar, wysheid soek, of eenvoudig ‘n sterker verhouding met God begeer, jy sal hier
Bybelse leiding en bemoediging vind.
Waar kom die naam ''Die Dam'' vandaan?
Die naam "Die Dam" het mettertyd, oor jare vorm aangeneem – ‘n reis van oomblikke en openbarings wat my - Krause Venter - dieper laat verstaan het wat ware gemeenskap met God beteken.
‘n Skildery van Vrede
Jare gelede, as jong advokaat, het ek ‘n skildery by 'n motorhawe langs ‘n pad gesien. Daarop was ‘n rustige toneel met ‘n dam, en ‘n figuur in ‘n rooi hemp wat stil langs die dam sit.
Ek het onmiddellik geweet ek moes dit koop en in my nuwe kantoor hang. In die jare daarna, in tye van druk en spanning , het ek eenvoudig na daardie skildery gekyk en myself daar verbeel – in die stilte, in die kalmte.
Vir jare het die skildery agter my lessenaar in my kantoor gehang. Hy hang nou nog daar.

‘n Ronde Struktuur en ‘n Openbaring
‘n Goeie vriend het ‘n ou, vervalle plaasdam op sy plot gehad. Op ‘n dag het ek lank daarna gestaar, en in my gedagtes het ek ‘n groep mense gesien wat in ‘n kring sit en gesels. Skielik het ek die kontras met ons kerke besef – waar mense elke Sondag in netjiese rye sit en almal in mekaar se agterkoppe vaskyk.
Ek het besef ware gemeenskap gebeur in ‘n kring – wanneer ons mekaar in die oë kyk en God se teenwoordigheid deel.
Op daardie oomblik het ek besef: Hierdie bediening se naam moet “Die Dam” wees. Kerk is nie net wat op ‘n Sondag gebeur nie. Dit is wanneer ons rondom ‘n tafel sit en met mekaar deel wat die Here in ons lewens doen.

‘n Skildery wat Spreek
Lank daarna, toe ek weer die skildery in my kantoor sien, val my oog op die ronde dam daarin. Dit tref my: “My genade! Die dam was nog altyd daar! Het God my destyds gedryf om hierdie skildery te koop, met ‘n doel vir Sy werk jare later?”
En ek het besef: Die dam is waar jy vrede vind. Waar die lawaai van jou siel stil raak. Waar God jou nooi om te kom rus.
‘n Woord met ‘n Dieper Betekenis
Op ‘n dag luister ek na ‘n lied wat sê: “Come dip your heart in the stream of life.” En iets pla my, want ek het nie ‘n stroom nie – ek het net ‘n dam. Maar toe ek bid, wys die Here my iets ongelooflik:
Die Hebreeuse woord vir "dam" beteken "bloed" ...
1 Johannes 1:7 sê:
“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
God se begeerte is gemeenskap. En dit gebeur wanneer ons rondom (dam) mekaar sit – nie in rye nie, maar in ‘n kring. Die bloed (dam) van Jesus was ons voortdurend terwyl ons in Sy lig wandel. Dít is die ware stroom van die lewe.
Kom sit by Die Dam. Kom Vind Rus.
Vir die een wat moeg is. Vir die een wat sukkel om by God uit te kom, maar weet hy is gered. Vir die een wie se siel so vol lawaai is dat hy nie God se stem kan hoor nie:
By Die Dam leer jy hoe om stil te word.
Hoe om God die ruimte te gee om jou lief te hê. In daardie rus, sal jy Sy vrede ervaar, sal jy sy stem hoor en sal jy ervaar dat Hy altyd in beheer is.
Die Dam & Die Bloed van Jesus
Water is noodsaaklik vir lewe, net soos die Bloed van Jesus noodsaaklik is vir ons geestelike lewe en verlossing. Net soos ‘n dam water opgaar en vrystel om lewe te onderhou, voorsien Christus se offer ‘n eindelose bron van genade, verlossing en vernuwing.
‘n Dam Bewaar en Stel Lewensgewende Water Vry
‘n Dam berg water en voorsien lewensonderhoud, reiniging en vernuwing vir dié wat dit nodig het. Sonder water verdor die lewe. Net so is die Bloed van Jesus die bron van ewige lewe.

Johannes 4:14 – "Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee"

Hebreërs 9:14 – "Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!"
‘n Dam Suiwer en Filtreer Water – Die Bloed Suiwer Sonde
‘n Dam verskaf nie net water nie, maar help ook om dit te suiwer. Net so reinig die Bloed van Jesus ons van sonde en maak ons nuut.

Hebreërs 9:22 – "Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie."
‘n Dam Verhoed Vernietiging – Die Bloed Beskerm Ons
Net soos ‘n dam oorstromings en vernietiging voorkom, beskerm die Bloed van Jesus ons en verlos ons van ewige skeiding van God. Deur Jesus se bloed is ons beskerm, bedek en verlos!

Eksodus 12:13 – " Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!"

Hebreërs 9:14 – "Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer."
Net soos ‘n dam water voorsien en beheer, wat lewe, vernuwing en beskerming bring, is die Bloed van Jesus die uiteindelike bron van lewe, verlossing en genade.
Deur Sy offer word ons gesuiwer, vernuwe en onderhou—nooit droog nie, altyd vol van Sy lewende water en Sy reddende bloed.

Die Openbaring 7:14 – " Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam."